Die uitdaging van my kinders, jou kinders en ons kinders
Wanneer egpare skei en besluit om weer te trou, verander die kerngesin dikwels na ‘n gemengde gesin wat gewoonlik bestaan uit ouers en kinders asook stiefouers en stiefkinders.
Die beginjare van ‘n gemengde gesin is dikwels vir almal moeilik en gaan normaalweg met verstaanbare stres gepaard.
Dit kan help om met ‘n terapeut te gesels voordat die proses plaasvind om almal beter voor te berei op die veranderinge, verwagtinge en uitdagings waarvoor baie mense te staan kom in hierdie konteks.
Die doel met hierdie skrywe is om ‘n algemene oorsig te gee van die uitdagings wat die verskillende partye mag hê, asook enkele riglyne te gee wat egpare met kinders wat besluit om weer te trou in gedagte moet hou. Hou in gedagte dat gemengde gesinne eventueel wel positief ervaar kan word .
Wat is die uitdagings vir kinders?
Kinders word meestal meer omvergegooi deur gemengde gesinne. Dit is te verstane as mens in ag neem dat kinders geen beheer het daaroor as ouers besluit om te skei nie. Die volwassenes kies om te skei, wat wie gaan kry, wie waar gaan woon, wie uittrek, besoektye, wie toesig kry, ensovoorts. Dit is ook die volwassenes wat ‘n nuwe maat kies en besluit om weer te trou.
Egskeiding beïnvloed elke aspek van ‘n kind se lewe en as daar boonop ‘n nuwe ouerfiguur en stiefsibbes by kom, is dit te verstane dat kinders hartseer, oorweldig, verward en bang kan voel. Dit is daarom belangrik dat voornemende ouers sal verstaan waarom kinders kan sukkel om aan te pas en dit derhalwe nie persoonlik opneem nie.
Kinders kan moontlik uiting gee aan frustrasies deur emosionele uitbarstings en gedragsprobleme. Sommige redes hieroor is:
- Hulle voel onseker en mag wonder oor vrae soos “Hoe en waar sal ek inpas? Sal ek aanvaar word? Na wie moet ek luister? Wat gaan nog verander?”
- Kinders kan hartseer, kwaad en jaloers voel omdat hulle jou moet deel met die stiefouer en -kinders.
- Die kind het nie die stiefouer gekies nie en deel derhalwe nie jou gevoel teenoor die stiefouer nie.
- Hulle blameer moontlik jou of die stiefouer vir die opbreek van die gesin. Die stiefouer kan verwerp word omdat sy/haar teenwoordigheid die realiteit dat die biologiese ouers nooit weer bymekaar sal uitkom nie tuisbring.
- Dikwels beskou die kind die stiefouer as ‘n vriend wanneer die egpaar net uitgaan. Wanneer die vriendskaps-rol verander in ‘n stiefouer-rol, kan die kind wrokkig voel teenoor wat hy nou as ‘n plaasvervanger vir die biologiese ouer kan beskou.
- Wanneer kinders van die stiefouer begin hou, kan hulle voel dat die biologiese ouer “verraai” word. Kinders voel dikwels verskeur tussen hul ouers en wonder aan wie hulle lojaal moet wees.
- Besoeke aan die ander ouer verg ook aanpassings. Wat eens normaal was, byvoorbeeld onbeperkte, spontane tydsbesteding met beide ouers op ‘n daaglikse basis, bestaan nie meer nie. Kinders moet gewoond raak aan nuwe besoektye en ook om tussen huise te beweeg.
- Kinders in gemengde gesinne kan die deel van ‘n nuwe huis met ander mense moeilik vind. Die kinders wat oorspronklik in die huis gewoon het kan voel dat die stiefkinders indringers is terwyl die kinders wat intrek ontuis , vreemd en soos onwelkome indringers mag voel.
- Tipiese sibbe wedywering kan nou ‘n nuwe dimensie aanneem. Kinders kan bang wees dat hul biologiese ouer liewer sal wees vir die stiefkinders en so begin wedywer vir aandag en kontrole in die nuwe huishouding.
- Die kinders kan ook jaloers voel op die tyd en aandag wat aan die stiefouer en -kinders spandeer word.
Wat is die uitdagings vir ouers en stiefouers?
Die prentjie verander drasties wanneer die egpaar die rolle verander van ‘n verliefde paartjie wat baie tyd alleen spandeer, oor en weer kuier, na huisopsit met stiefkinders wat nie noodwendig hulle entoesiasme deel nie. Hierdie rolverandering verg aanpassing wat verstaanbaar druk op die verhouding kan plaas.
- Die egpaar het dalk verskillende idees oor ouerskapstyle en dissipline.
- Nuwe stiefouers kan dit moeilik vind om ‘n balans te handhaaf tussen effektiewe ouerskap en die behoefte om die stiefkind se guns te wen.
- Vir persone wat nog nie hul eie kinders gehad het nie, kan dit baie stresvol en oorweldigend wees om die rol van stiefouer te moet vervul.
- Die egpaar kan jaloers raak op tyd en aandag wat met kinders spandeer word en afgeskeep voel.
- Probleme met een van die egpaar se kinders kan veroorsaak dat die egpaar daaroor baklei.
- Konflik met die eks man/vrou, byvoorbeeld dispute oor toesig en besoektye, onopgeloste konflik en jaloesie hieroor, kan ook bydra tot stres en konflik.
Riglyne wat gemengde families kan lei
Dis belangrik om te besef en aanvaar dat almal in die situasie voor uitdagings te staan sal kom. Bande kan nie oornag gesmee word nie, dit sal tyd neem. Pak die reis na ‘n geïntegreerde gesin met ‘n gedeelde geskiedenis waar nuwe rolle en verhoudings vorm en by die nuwe normaal aangepas word, rustig aan. Gun almal tyd en ruimte om op hul eie unieke manier vrese te oorkom, te leer aanpas en nuwe verhoudings en rolle te vorm.
- Gesels met almal oor die pad vorentoe en hou dit ‘n oop gesprek waaraan almal kan deelneem. Verduidelik dat julle nie twee huishouding is nie, maar een wat elkeen deel van is.
- Die egpaar moet tyd spandeer om die rolle, reëls, en riglyne vir dissipline en konsekwensies, konflik tussen kinders, waarmee beide gemaklik is, deeglik uit te klaar. Ouers moet saamstaan en as ‘n span werk, dit bied vir die kinders struktuur en sekuriteit.
- Praat gesamentlik en apart met die kinders en laat hulle toe om hul verse, verwagtings en gevoelens te deel.
- Maak dit duidelik dat almal nie van mekaar hoef te hou nie, maar dat almal mekaar moet respekteer.
- Kommunikeer openlik en duidelik en moenie die kinders se reaksies of houdings persoonlik opneem nie.
- Dis wenslik om dissipline soos ooreengekom aan die biologiese ouer oor te laat sodat die stiefouer eerder kan fokus om ‘n band met die stiefkinders te bou.
- Stiefouers is nie veronderstel om te probeer om die biologiese ouer se plek in te neem nie. Die kind het sy eie ma en pa, en die stiefouer se rol verskil van hul rol. Derhalwe behoort daar nie van die kinders verwag te word om die stiefouer lief te hê of ma of pa te noem nie. Kinders kan hul eie ouers liefhê en terselfdertyd ‘n goeie verhouding met ‘n stiefouer hê.
- Dit is van onskatbare waarde vir kinders dat elke ouer daagliks alleentyd met sy eie kinders spandeer.
- Terselfdertyd kan begin word met nuwe tradisies as ‘n gemengde gesin waar almal iets spesiaals saamdoen. Doen nuwe dinge saam, byvoorbeeld uitstappies na die park Vrydae middae waar almal mekaar op ‘n ontspanne en spontane manier kan leer ken. Skep nuwe herinneringe in plaas daarvan om voriges te probeer namaak.
- Waar moontlik, betrek beide biologiese ouers, grootouers, stiefouers en stief grootouers by belangrike geleenthede soos verjaarsdagpartytjies. Dis belangrik dat almal ter wille van die kind oor die weg kom.
- Wys kinders daarop dat hulle elk unieke talente, vaardighede en belangstellings het. Waak daarteen om kinders met mekaar te vergelyk.
- Alhoewel ouers soms skuldig voel, is dit belangrik om hiervan bewus te wees en nie te probeer oorkompenseer deur die stiefkind voor te trek of jou eie kind te bederf nie.
- Kinders in stiefgesinne kan aanvanklik meer gemaklik voel met verbale affeksie soos komplimente en waardering eerder as fisiese affeksie soos drukkies.
- Moenie jou eks voor die kinders kritiseer nie, daardie ouer bly die kind se ouer ongeag hoe jy oor die persoon voel.
- Dis belangrik om nie ‘n stiefkind se guns te probeer wen deur sy kant te kies wanneer ‘n kind met sy biologiese ouer argumenteer nie.
- Stiefouers behoort hulself daarvan te weerhou om betrokke te raak in ‘n bespreking oor ouerskap met jou eggenoot se gewese man/vrou.
- Jy kan jou kind help om nie verskeur te voel tussen ouer en stiefouer deur nooit jou eks te kritiseer voor die kind nie, die kind nie uit te vra oor wat by die ander ouer se huis gebeur het of aangaan na ‘n besoek nie, en die kind nie as boodskapper te gebruik nie.
- Baie belangrik is om aandag aan jou huwelik te gee, maak tyd vir mekaar te maak wanneer die kinders nie daar is nie asook tyd om saam uit of weg te gaan.