Ons bevind onsself tans in ‘n tyd waar baie families platgeslaan is weens die afsterwe van ‘n geliefde as gevolg van Covid-19. Ons daaglikse lewens en gevoel van beheer is op verskeie vlakke omvergewerp as gevolg van die pandemie.
Om nou boonop iemand aan die dood af te staan, bring unieke en moeilike uitdagings. Weens die verskeie beperkings kon mense nie hul geliefdes versorg tydens hul siekte nie, en in baie gevalle kon mens nie daar wees vir hul geliefdes tydens hul afsterwe nie, of afskeid neem van hul geliefdes nie.
Die normale roetines en rituele (tradisionele begrafnisse, familie byeenkomste, ensovoorts) wat gewoonlik vertroosting, afsluiting en ondersteuning bied is nou ook beperk en vervreemd. Hierdie omstandighede kan ons gevoelens van isolasie vererger en kan oorweldigend wees.
Om te rou is ‘n natuurlike reaksie op verlies, maar die manier waarop elke mens rou is uniek aan elke person. Om meer van die rouproses te wete te kom, kan die beginpunt wees om te probeer sin maak van die gevoelens wat jy ervaar.
Fases van rou
Alhoewel elke persoon op hul eie manier rou, ervaar meeste mense verskillende fases van rou na ‘n verpletterende verlies. Kennis van die rou-fases waardeur meeste mense gaan kan jou en jou geliefdes moontlik help deur dit wat julle ervaar te identifiseer en te besef dat dit wat ervaar word ‘n normale deel van die rouproses is. Almal ervaar nie noodwendig al die fases nie en ook nie in hierdie spesifieke volgorde nie.
Skok, ongeloof en ontkenning
Wanneer jy die verskriklike nuus kry dat iemand na aan jou oorlede is, is dit dikwels moeilik om te glo. Dit voel so onwerklik dat jy moontlik dink: “Dit kan nie waar wees nie!” Jy is in ‘n toestand van skok, die lewe soos jy dit ken het in ‘n oogwink verander. Om oorweldig te wees en selfs te voel of jy in ‘n waas is, sonder enige gevoel, is ‘n natuurlike reaksie op ‘n doodstyding.
Ontkenning en skok kan mens help om die nuus te hanteer en te oorleef – dis as’t ware ‘n buffer om jou te help om nie die volle impak van wat gebeur het op een slag te ervaar nie, wat soms net te veel is om op een slag te verwerk.
Onderhandeling
Nou begin die “Wat as?” vrae in jou gedagtes maal. “Wat sou gebeur het as ons dalk vroeër by die dokter uitgekom het?” “Wat as ons na ‘n ander hospitaal toe gegaan het?” Teen die agtergrond van Covid-19 kan vrae soos: “Wat as ons nie werk/skool/restaurant toe gegaan het nie, moontlik sou hy/sy nie Covid-19 gekry het nie” ensovoorts, jou gedagtes in beslag neem.
In dié fase gebeur dit dat mens tevergeefs met ‘n hoër mag probeer onderhandel om die hopeloosheid te ontsnap, byvoorbeeld :“Ek belowe om nooit weer… as U hom/haar net sal terugbring.”
Hierdie proses is ‘n vorm van valse hoop, waar jy eintlik in jou gedagtes die gebeure probeer oorspeel en omdraai in die hoop dat die resultaat anders sal wees. Die oorspeel van die traumatiese gebeure en die herhaaldelike afspeel van die besonderhede daar rondom is ‘n manier om sin te probeer maak van dit wat gebeur het. Al het jy dikwels meer vrae as antwoorde dra dit by tot die verwerking van die trauma.
Skuldgevoelens
Hierdie rou-fase verwys na dit waaroor jy spyt is rakende jou verhouding met die oorledene. Dit kan verskeie vorms aanneem. Jy verwyt jouself miskien omdat jy sekere dinge gedoen het, of nagelaat het om te doen, voor die persoon oorlede is. Jy kan aan tye en insidente dink waaroor jy jammer is. Jy kan skuldig voel omdat jy weens Covid-19 beperkings nie by jou geliefde kon wees in die laaste oomblikke nie. Jy voel dalk skuldig omdat jy oorleef het en nie jou geliefde nie.
Woede
Wanneer die volle realiteit van wat gebeur het jou tref, kan ‘n mens gefrustreerd voel, ‘n gevoel wat dan omgesit kan word in woede. Jy bevraagteken die regverdigheid van die verlies. Jy is kwaad en soek iets of iemand om te blameer – dalk die hospitaal/persoon/omstandighede wat tot die Covid-19 infeksie aanleiding gegee het, ensomeer.
As jy gelowig is, is jy dalk kwaad vir die Opperwese en bevraagteken Hom.
“Hoe kon Hy dit toelaat? Waarom is my gebede nie verhoor nie? Waar is Hy? Waarom ek? Waarom my geliefde?”
Om kwaad te wees is ‘n normale reaksie en jy hoef nie skuldig te voel hieroor nie. Laat jouself toe om die woede te ervaar, selfs al voel dit of jy vir ewig kwaad gaan bly. Hierdie opgekropte emosies moet ‘n uitlaatklep hê en sal minder intens raak namate jy jouself toelaat om dit te ervaar.
Depressie, refleksie en eensaamheid
Alhoewel ander mense moontlik dink dat jy afsluiting begin kry en selfs onnodig druk op jou plaas om “aan te gaan met jou lewe”, is jou realiteit nou ‘n lang tyd van hartseer, refleksie en gedagtes oor jou lewe voor die verlies. Die volle omvang van jou verlies en die gevolge daarvan op jou mag jou dalk nou eers volheid tref.
Jy mag dalk onttrek van mense en wil op jou eie wees. Jy wens die wêreld kon stilstaan. Jy is besig om herinneringe van dit wat jy en jou geliefde gedoen en gedeel het te koester en daarna terug te kyk. Jy reflekteer oor wat die persoon vir jou beteken het en die verlies aan julle toekoms saam.
Om nou depressief te voel, is toepaslik. Jy besef nou immers dat die persoon regtig weg is en wonder hoe om aan te gaan, en jy wonder of jy dit sal kan doen. Terwyl die wêreld om jou aangaan, voel jy moontlik alleen, leeg en moedeloos. Jy kom nou in voeling met hoe hartseer jy eintlik is oor jou geliefde se dood.
Dit kan wees dat jou emosies wipplank ry. Jy mag dalk sukkel om te slaap, of dalk om op te staan en te eet. Jy kan ook angstig voel en jou oor klein dingetjies bekommer. Besluite en daaglikse verantwoordelikhede voel moeilik, sinneloos en oorweldigend. Om weer te begin werk kan ook moeilik wees – jy sukkel om te konsentreer, is vergeetagtig, en net die idee van met kollegas praat is te veel vir jou.
Mense is soms bang dat hulle nooit weer normaal sal voel nie en probeer dan om hulself te forseer om “positief” te wees. Mense om jou kan dalk ook druk op jou plaas om “beter” te voel en aan te gaan. Alhoewel dit dalk nie so mag voel nie, is hierdie ‘n noodsaaklike en natuurlike fase van rou. Moenie toelaat dat wel bedoelde maar misplaaste opvattings van ander jou verhoed om hierdeur te gaan nie.
Gun jouself dié tyd en onthou dat mens nie sommer net oor ‘n geliefde se dood kom nie. Jou geliefde het ‘n integrale deel van jou lewe en toekomsverwagtinge gevorm – gun dit vir jouself om op jou eie tyd en manier te rou. Jy is besig om jouself en jou lewe sonder jou geliefde te herstruktureer.
Herbouing, aanvaarding en hoop
Aanvaarding beteken nie dat wat gebeur het reg is of ooit reg moet voel nie. Dit beteken bloot dat jy die nuwe realiteit begin aanvaar – jy leer om te lewe met die verlies.
Jy begin minder emosioneel en moedeloos voel en van die fisiese simptome is nie meer so erg nie. Jy kan selfs weer die behoefte aan menslike kontak begin voel. Sommige dae kan nog hartseer wees, maar die beter dae word stelselmatig meer. Met verloop van tyd sal jy selfs aan jou geliefde kan dink sonder om die intense seer te voel – hartseer ja, maar die verpletterende pyn sal verdwyn.
Jy het dit reggekry om ‘n nuwe roetine en nuwe normaal te vind. Inaggenome die pyn en wroeging waardeur jy is sal dinge nooit weer wees soos voorheen nie, maar jy is stadig maar sekere besig om jou voete te vind. Jy maak moontlik weer toekomsplanne.
Rou in al sy fasette is noodsaaklik vir genesing. Elke mens ervaar egter hul hartseer en fases anders. Onthou dus dat jou reis van rou uniek is en laat jouself toe om dit op jou unieke manier en tyd te doen.