Wat om te verwag.

Kwalifikasies.
Ek het beide my B.A. en B.A. (Honneurs) grade in Sielkunde voltooi by die Universiteit van Pretoria. Ek het my M.A. (Kliniese Sielkunde) graad gedurende 1988 by RAU (Universiteit van Johannesburg) verwerf.
Ek is sedert 1989 geregistreer as ‘n Kliniese Sielkundige by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe, naamlik die HPCSA (Health Professions Council of South Africa). Ek werk sedert 1990 in privaatpraktyk.
Jy mag dalk egter moontlik steeds wonder oor wat om te verwag wanneer jy my kom sien. Eerstens sal ek vir jou vra om my van jouself te vertel en wat jou hierheen laat kom het – soortgelyk aan wanneer jou dokter jou vra om te vertel wat die probleem is.
Ons sal dan saam eksploreer en uitpluis wat jou genoop het om my te kom sien. Soms is dit duidelik, ander kere minder spesifiek en duidelik. Hoe dit ook al sy, deur dit te bespreek, sal dit duideliker word.
Ons sal deur middel van hierdie ekplorasie ook vasstel hoe jy gewoond is om met die lewe om te gaan, hoe jy gewoonlik dinge doen. Ons sal ook leer watter struikelblokke jy voorheen oorkom het, hoe jy dit gedoen het, ensovoorts. Ons sal dan die metodes, vaardighede en toerusting wat jy ken, waarmee jy gemaklik is, en waarop jy tipies staatmaak of terugval (jou sogenaamde “go to“ oplossings) begin raaksien en verstaan. Ons sal ook begin sien watter paaie en draaie jy geneig is om te vat, asook hoe effektief, al dan nie, hulle is – met ander woorde – hoe goed hulle werk of nie. Ons sal deeglik en sistematies werk om sodoende ‘n duidelike beeld van die struikelblokke en uitdagings wat jy tans ervaar, te kry. Ons sal dan duideliker begin sien hoedat die tipiese wyse waarop jy in die verlede die lewe aangepak het, moontlik nou nie so goed werk as voorheen nie. Ons sal kyk na gepaste alternatiewe opsies – of dit moontlik is om ‘n ander draai te vat of miskien ‘n nuwe roete te beplan. Onder my leiding sal ons daarna werk om jou toe te rus met die nodige en effektiewe toerusting en vaardighede om jou te lei om op die gekose roete voort te gaan.
Uit die aard van die saak is dit onvermydelik dat jy jou ‘tipiese’ manier van dinge doen tot ‘n mate sal moet aanpas en/ of verander. In alle waarskynlikheid sal dit jou met tye ongemaklik laat voel. Jy kan dalk ook kwesbaar, onseker en oorweldig voel. Ek sal egter daar wees deur jou reis om jou te ondersteun, te ondervang en aan te moedig.
Dis ook vir my belangrik dat ons – wanneer jy jou doelstellings bereik het – ‘n plan het om te verseker dat jy dit sal regkry om met jou ‘nuut geleerde’ gedrag te kan volhou. Deur gesamentlik ‘n plan in plek te stel, streef ons om jou toe te rus sodanig dat jy die eise van nuwe, onbekende situasies kan hanteer en kan volhou met jou suksesvolle navigasie, self al kom jy te staan voor potesiële stressors en uitdagings in die toekoms.
Ten laaste spesialiseer ek in die volgende (maar nie beperk tot) areas wat vir mense probleme veroorsaak:
- Verhoudingsprobleme
- Egskeiding en/of skeiding
- Aanpassings by stiefgesinne
- Emosionele en/ of fisiese mishandeling
- Lewensoorgange en aanpassings
- Terminale siekte en ondersteuning
- Rou en verlies
- Krisis ondersteuning
- Post traumatiese stress
Alhoewel ek meestal met volwassenes werk, word kinders betrek wanneer hulle deel is van die probleem waarmee aangemeld word. Laasgenoemde is dikwels die geval in ‘n nuutgevormde (stief)gesin of egskeiding.
Watter sielkundige ?
Hierdie is ‘n gepaste, asook ‘n geldige en belangrike vraag wat jy jouself afvra. Dit is jou reg om te kies.
Verskillende aspekte is tot ‘n mindere of meerdere mate belangrik vir verskillende mense. Uit ervaring stel ek voor jy oorweeg tot welke mate aspekte soos byvoorbeeld geslag, ligging, ervaring en taal van ‘n sielkundige vir jou belangrik is en laat dié ‘n rol speel in jou keuse.
Bygesê, jy gaan jou tyd, gedagtes, gevoelens en aspekte van jou lewe met jou terapeut deel. Meeste hiervan is persoonlik, privaat en delikaat. Derhalwe stel ek ook voor dat jy deur die inligting op sielkundiges se webwerwe werk, met die gedagte om ‘n indruk en opinie te vorm van die betrokke sielkundige en dié se benadering. Jy is op soek na iemand met wie jy kan aanklank vind – soortgelyk aan hetsy jou dokter, tandarts, ginekoloog of uroloog. Jou terapeut gaan aan jou siel (psige) raak, daarom is dit belangrik dat jy ‘n terapeut kies by wie jy aanklank vind, wat by jou vertroue inboesem en waarmee jy gemaklik voel.