Waarom Psigoterapie ?
As mense kruis ons almal paaie met die onvoorsiene – omstandighede en gebeure – wat ons toets. Meeste van die tyd kry ons dit reg om sterk te staan, om aan te pas, om te oorkom. Maar soms, soms breek daar ‘n dag aan waar ons besef ons val nie meer in die kategorie van ‘dit gaan meestal goed’ nie.
Verskillende mense kom tot die besef dat daar ‘fout’ is op verskillende maniere; en natuurlik reageer een mens ook anders as ‘n ander op dié besef. Daar is ‘n verskeidenheid van ‘tekens’ wat daarop kan dui dat daar ‘fout’ is.
Vir sommige mense is die tekens in hul slaappatroon. Vir ander lê die tekens in die verbrokkeling, of veranderde dinamiek, van ‘n verhouding. In sommige gevalle beskryf mense – wat hulself normaalweg as gedrewe beskou – hulself nou as lusteloos en uitgeput. Vir ander is dit dat hulle hetsy meer geïrriteerd, tranerig, gespanne en/of angstig voel as gewoonlik. Soms sê mense doodeenvoudig net dat hulle vind dat hulle ‘anders’ as normaalweg optree. Vir baie is die teken merendeels net ‘n gevoel dat dinge nie lekker is nie, ongeag of hulle ‘n rede daarvoor kan gee, of nie. Natuurlik gebeur dit ook dat ‘n persoon self eers die tekens raaksien wanneer iemand anders, soos byvoorbeeld ‘n familielid, eggenoot, vriend of kollega, dit opmerk en onder hul aandag bring.
Soms is die oorsaak duidelik vir mense, in ander gevalle nie. Soms is daar ‘n spesifieke lewensgebeurtenis of ‘n traumatiese ervaring ter sprake, soms is dit die gevolg van frustrasie met ‘n spesifieke situasie wat al vir ‘n geruime tyd opbou. Dikwels egter, is mense bloot net nie seker nie. Dikwels is dit moeilik vir mense om hul vinger te lê op die oorsaak van, of rede vir, hulle spesifieke tekens of simptome.
Net so is mense dikwels onseker hoe om dit te hanteer, of wat om daaromtrent te doen. Die idee om ‘n sielkundige te gaan sien, kan by hulle opkom, of iemand kan dit dalk voorstel.
Vir baie is dit egter eenvoudig net nie so maklik om ‘n sielkundige te gaan sien soos wat dit byvoorbeeld is om tandarts toe te gaan nie. Bygesê, die blote idee om tandarts toe te gaan is selfs vir sommige vreesaanjaend. Oor die algemeen aanvaar meeste mense egter tog dat om tandarts toe te gaan, ‘n deel van die normale verloop van die lewe is. Ongelukkig glo baie mense dikwels steeds – tot ‘n mindere of meerdere mate – dat dit ‘buitengewoon’ is om ‘n sielkundige te gaan sien. Dit is ‘n jammerte, aangesien dit weliswaar gebeur dat mense soms op ‘n punt kom waar hulle besef dat hulle nie meer die krag het om net sterk te staan, aan te pas en/ of te oorkom nie – of self nie eens om net ‘voort te gaan’ met die lewe soos vantevore nie.
Daar is ook mense wat ruiterlik sal erken dat hulle twyfel aan, en sinies is oor sielkundiges, terapie en/ of die nut van beide. Ander sê dat hulle nie kan verstaan hoe dit ‘n mens kan help om oor ‘n situasie te praat nie. Veral nie as die situasie ter sprake nie kan verander of ongedaan gemaak kan word nie, soos byvoorbeeld ‘n aflegging by die werk, of die afsterwe van ‘n geliefde.
Sommige mense is weer huiwerig om ‘n sielkundige te gaan sien omdat hulle bekommerd is dat dit hulle ‘swak’ sal laat lyk, of dat dit op een of ander manier negatief op hulle sal reflekteer. Vir ander lê die knoop by die feit dat hulle self gewoonlik die een is waarheen ander mense kom met hulle probleme. Hulle self is die een wat deur ander as ‘sterk’ en ‘in beheer’ beskou word. Verskeie van my kliënte het al erken dat hulle aan die begin huiwerig, onseker en skaam was om my te kom sien.
Daar is ook baie mense wat huiwerig is om na ‘n sielkundige te gaan omdat hulle glo dat hulle self, op hul eie, behoort te kan deel met lewensuitdagings, probleme en trauma.
Verder gebeur dit dikwels dat wanneer mense die tipiese tekens ervaar, hulle eers juis druk op hulself sit om ‘harder te probeer’ of om ‘hulself reg te ruk’. Dis egter makliker gesê as gedaan. Dis meestal na mislukte pogings om presies dit te probeer doen, dat mense begin oorweeg om ‘n sielkundige te gaan sien. Meer belangrik – dit is reg om dit te doen – om te oorweeg om ‘n sielkundige te gaan spreek.
In slotsom, indien die dag vir jou aanbreek waar jy besef dat daar tekens in jou lewe is wat vir jou toon dat jy sukkel om, soos vantevore, dinge te hanteer, aan te gaan, jou voete te vind, dan is dit toepaslik vir jou om ‘n sielkundige te gaan sien.